Project Description

BLYSPELE

Beauty and the Beast, Musiekblyspel 2016

Affies het in April 2016 die tydlose sprokie, “Beauty and the Beast”, in die Pretoria Staatsteateropgevoer. Dit was ‘n ongelooflike ervaring en het ons gewone Affie-dogters en -seuns in professionele akteurs en sangers verander wat kan meeding met mense op die internasionale verhoë! Dit was ‘n heerlike reis deur nege maande van voorbereiding en ons het vriende gemaak, daar het ‘n paar romanse ontstaan en ons het almal bal-metgeselle vir die res van ons skoolloopbaan!!

So ‘n reis begin altyd by die oudisies. Op ‘n koue Vrydagmiddag in Julie 2015 het ons die dans- en sangoudisies gedoen op ons skoolterrein. Daar was byna 250 Affies wat geduldig in lang rye gewag het om te sing nadat hulle hulle lekker warm gedans het in die skoolsaal onder die fyn oog van ons choreograaf, Ferdinandt Gernandt en met die hulp van Annica Steenkamp-Smit, albei mense wat self in die bedryf is.

Na die eerste rondte oudisies het ons ‘n sanggroep saamgestel wat na ‘n naweekkamp die agtergrondmusiek opgeneem het by ‘n professionele klankstudio met die bekwame Hanno Smit van Mastermix agter die mengbord. Met dit agter die blad het ons begin met die proses om die hoofrolle te kies. Met so baie talent het die span beoordelaars baie kop gekrap, maar uiteindelik het ons ‘n span hoofrolle gekies wat skrik vir niks! Die ensemble-groep is ook gefinaliseer en ons het ‘n span van 60 gehad wat reg was vir die ding.

Gewapen met ons oefenmateriaal en baie entoesiasme het ons die eerste choreografiekamp gehad net voor die Oktobervakansie. Ons het gespring, baie gelag en hard gekonsentreer en 3 van die die ensemble-nommers onder die knie gekry. Deur die eksamen en Desembervakansie het ons lekker uitgerus en die hoofrolle moes self aan hulle solo’s en dialoog begin werk.

Januarie 2016 het aangebreek en ons was in die saal vir ons tweede choreografie kamp nog voor die skool begin het. Nou het die groot werk begin om alles in te oefen. Ons het Dinsdag- en Donderdagmiddae getrou geoefen elke moontlike langnaweek en aftyd wat ons in ‘n besige skoolprogram kon kry. Behalwe die harde werk het ouers en onnies altyd vir lekker eet- en drinkgoed gesorg om die innerlike te versterk. Die hoofrolle het ook die Staatsteater besoek een middag en ons het dit vreeslik geniet in die Garderobe waar ons kostuums aangepas het wat ons sou huur vir die vertonings.

Die laaste wat ons moes doen, is om al die verskillende aspekte saam te stel en “scenes” te “plot” soos hulle in die bedryf daarvan praat. Daarna was dit net oefen, oefen, oefen, oefen… Kostuums is reggekry en die onnies moes bontstaan om aan alles te dink van grimering tot onthaal van eregaste. Die Affie-jeugorkes het ook baie hard geoefen en hulle was opgewonde om hulle orkesput te betree, en skielik, na maande se oefen, ons was reg en gereed vir aksie!! Staatsteater hier kom ons!!

Op 18 Januarie het ons “ingetrek” in die teater. Vir baie van ons was dit ‘n eerste ervaring en dit het ons asems weggeslaan!! Ons is vir elke oefening en optrede aangery in busse vanaf die skool en terug, waar die ouers ons (soms baie laat in die nag) kom oplaai het. Ons het heerlike etes agter die verhoog gekry en gangpartytjies gehou as die onnies nie gekyk het nie!!

Die verhoog was amper so groot soos 2 skoolsale en ons oë het groot gerek toe ons ‘n veiligheidslesing kry oor die verhoog wat in seksies gedeel is en op en af kan beweeg, asook die “backdrops” wat “invlieg” en waarvoor ons alles moet oppas. Ons het sommer ‘n hele klomp nuwe teaterterme geleer! Ons het almal aantrekkamers gekry en het vinnig in die ritme gekom van hoe dit “backstage” werk en hoe ons verhoogbestuurder (Yvette Hanekom) se woord wet is en as sy praat, spring en hardloop ons!! Ons was nou in ‘n regte professionele omgewing met ‘n professionele regisseur, verhoogbestuurder, klankmanne en beligtingmense. Ons is grimeer met professionele grimering en met die leiding van ons drama departement het die onnies en helpers ons verander in sprokiekarakters, gereed vir die kleedrepetisie. Van ons dogters is gebruik om te help by die beligtingkamer en het die “spot lights” hanteer. Hulle het groot pret gehad om hiervoor te oefen terwyl die karakters oor die verhoog hardloop en hulle hulle moet “vang” met die ligte!

Ons harte het in ons kele geklop die eerste keer wat ons die openingsmusiek hoor en geweet het daar sit mense wat nie kan wag om te sien wat ons nou gaan doen nie. Ons het laerskole, ouetehuise en ons ouers genooi na die kleedrepetisie. Daar was net so hier en daar klein probleme wat ons moes uitstryk en ons was finaal gereed!!

Ons het 4 wonderlike vertonings gehad, met gemiddeld 1000 toeskouers per vertoning. Die hoofrolspelers moes Vrydag- en Saterdagaand ook die eregaste gaan ontmoet by die onthale in kostuums en met volle grimering. Dit was ook ‘n ondervinding!!!

Die eerste aand (Vrydag) het ons ‘n klein 11-jarige dogtertjie van Witbank wat terminaal siek is, ontvang as deel van die Reach for a Dream-organisasie. Ons het haar aangetrek in ‘n prinsesrokkie, net soos ons hoofkarakter Belle, en sy het na die vertoning na die verhoog gekom en presente gekry en ‘n staande applous van die gehoor. Die trane het geloop  (ja, die seuns s’n ook!). Die Saterdag was daar ‘n middag- en aandvertoning en ons het afgesluit met ‘n Sondag 12-uurvertoning waar mense amper vuisgeslaan het om plek te kry!

Ons is dankbaar dat daar geen ongelukke was nie en dat stemme gehou het en dat ons produksie so geseënd en suksesvol was! Dankie aan ons hoof en beheerliggaam wat dit moontlik gemaak het vir die 120 leerders (ensemble, hoofkarakters, orkes en helpers) wat hierdie ongelooflike ondervinding kon meemaak. Ons sal dit nooit vergeet nie!!