Project Description

KULTUUR

Affie-Drama

Die lewe is ‘n drama. By Affies is drama ook die lewe – of jy nou droom van ‘n rol in Binnelanders, of die warm gevoel van ‘n kollig op die verhoog jou lok, of jou voete jeuk om Charlize Theron te volg na Hollywood, en of jy net lus is om elke dag deel van ons gemaklike, kreatiewe omgewing te wees, dan moet jy Drama as ‘n vak oorweeg of aansluit by die Affie-Dramaklub.

Die Affie-Dramaklub bied geleenthede vir deelname aan opwindende Drama-aande, uitdagende Eisteddfods en die ongelooflike voorreg om op die Opera-verhoog van die Staatsteater op te tree in die Tshwane Jeugkunstefees. As jy daarvan hou om grense te verskuif, of in ‘n dinkskrum kreatiewe idees uit te ruil, as improvisasie op die verhoog vir jou aanloklik is, of selfs as jy jou hand wil waag aan regie, sal die Affie-Dramaklub jou nie teleurstel nie.

Ons skep ‘n atmosfeer wat jou aanmoedig om onafhanklik te dink, nuwe idees te ondersoek en jou die kans gee om ‘n gedeelte van jouself uit te leef en te ontwikkel, wat andersins agterweë sou bly.

As jy egter eerder verkies om in ‘iemand anders se skoene te staan’ of jy wil ‘wegkruip agter ‘n karakter’ of jou ‘siel uitstort in ‘n rol’, is Tienertoneel die plek vir jou. Of jy nou ‘n voorkeur het vir komedie, tragedie, melodrama, fisiese teater of selfs musikale blyspele, Tienertoneel sal die ware aktrise in jou wakker maak en na vore bring en jou talente verder ontgin. As jy reeds ‘n Meryl Streep is, des te beter! Tienertoneel is die platvorm waar jy jou talente kan kom ten toon stel. Boonop bied Tienertoneel ook geleentheid aan alle dogters wat verkies om agter die skerms te werk: Verhoogbestuur, Klank-en-beligtingstegnikusse kry ook ‘n kans om deel hiervan te vorm.

Die jaarlikse Tienertoneel-produksie bied jou vele geleenthede om op te tree. Ons neem onderskeidelik deel aan TUKS se Krêkvars Kunstefees, die Tshwane Toneelfees, Affie-Artes Toneelafdeling, ATKV Tienertoneelkompetisie en tree ook op in die Brooklyn Teater in Menlyn.

Sou jy dit dalk verkies om te fokus op jou ‘solo-loopbaan’, of as jy jou eie opvoervaardighede wil toets, bied ons aan jou Affies se eie interne Affie-Artes Kunstefees waar die individu die geleentheid kry om op te tree in verskeie Drama-afdelings: Poësie (Gedramatiseerd of nie); Prosa (Gedramatiseerd of nie); Monoloog, Samespraak, Mimiek, Karakteruitbeelding en nog meer. Dogters kan ook individueel deur die skool inskryf vir Eisteddfods.

As jy ernstig is oor Drama, of as jy op soek is na ‘n vak wat jou kreatiewe asook kritiese denke stimuleer, en as die verhoog jou passie is, is Dramatiese Kunste die vak vir jou.

Kom skerp jou kommunikasievaardighede op, leer om onder druk te werk en aanpasbaar te wees, word ‘n meester met probleemoplossing en druk jou denke en gevoelens beter uit. Tussendeur gaan jy jouself leer ken, jou selfvertroue bou en vriende maak met mense wat jy nêrens anders sou raaklooop nie. Of jy kaptein van die hokkiespan, voorsanger op die pawiljoen of ‘n raakvatter met rekenaars is, sal jy beslis by Drama baat vind.