Project Description

HOKKIE

Ons spog met ‘n trotse en opwindende hokkiekultuur, gevestig in sterk waardes, dissipline en hokkie-etiket.  Spangees en entoesiasme is baie belangrik as jy wil hokkie speel.  Hokkie is nie net ligawedstryde en harde werk nie, dis ook baaaaaie pret op ons eie Affie-astro en topkwaliteit grasveld!

By Affies kweek ons ‘n liefde vir hokkie!

HOKKIE-AKADEMIE

Hokkie word as vak tydens skoolure vir graad 8 en 9 aangebied.

Verskeie fasette geniet aandag:

  • Basiese vaardighede
  • Voetwerk
  • Spelpatrone
  • Toernooi-organisasie
  • Oog-handkoördinasie
  • Tegniese aspekte
  • Posisionele spel
  • Skeidsregting
  • Afrigter-opleiding

 

DEELNAME EN PRESTASIES  

  • AHMP het 18 spanne waarvan 12 aan die NorthernsGrootskole 1-liga deelneem.  Uitstekende uitslae word deur al die spanne behaal.  AHMP eindig algeheel tweede vanaf 2012 – 2016.
  • Alle A-spanne neem weer eens vanjaar deel aan die Stadsbeker-  asook die Noordvaal-kompetisie. Die Stadsbeker-uitspele is tans aan die gang.
  • In 2013 speel al 4 A-spanne in die Stadsbeker-semifinaal en 3 spanne in die Stadsbeker–finaal.
  • O/15A- is Stadsbekernaaswenners en Noordvaal-wenners in 2014.
  • Al 4 A-spanne dring deur na Noordvaal vanaf 2013 – 2016.
  • In 2016 verwerf negentien dogters provinsiale kleure.
  • Elf Affies het reeds SA-kleure verwerf. (Springbok-,  Protea-,  SA Skole-kleure)
  • Hokkiekursusse word jaarliks in Maart/April bygewoon.
  • Die eerste span neem deel aan die St Mary’s Festival sowel as die National All Girls’ Festival.
  • AHMP en Oranje Meisies het jaarliks ‘n derby-dag waaraan alle hokkiespanne deelneem.
  • Ons toer ook met al ons hokkiespanne na Potchefstroom vir ‘n hokkiedag
  • Fiksheid en kondisionering word gedurende die afseisoen gedoen.  Voornemende Affies word uitgenooi om in te skakel.
  • Die interne somerliga en pretdag is maar enkele aspekte wat Affie-hokkie uniek maak.
  • Voornemende Affies word ingesluit in die somerligaspanne. Maak seker dat jou naam op die lys is!!
  • AFFIES LEGENDSis ons eie hokkieklub met twee spanne wat aan die Northerns Blues senior liga deelneem.

Wat huidige en oud-Affies te sê het oor Affie-hokkie:

 Dit aak nie saak of jy nog nooit ‘n hokkiestok in jou hande gehad het en of jy die provinsiale O/13-span gemaak het nie, Affie-hokkie is die sport vir jou!

Die hoërskool is ‘n plek om te groei en te verander in die persoon wat jy graag wil word en die grasgroen astro is die beste plek om dit te doen! Al die spanne, A – Z, toer saam na Kimberley en Bloemfontein.  Waar die A-spanne Northerns proewe, Stadsbeker en Noordvaal kan speel, word die ander spanne sover moontlik ook ingeskryf vir toernooie en oefenkampe bo en behalwe die ligawedstryde.

Dit is nog ‘n plek vir jou om deel te word van die Affie-Gees waar jy sussie-verhoudings bou.  Met vriendelikheid, wysheid, passie en malligheid van die organiseerder en afrigters, is daar nooit ‘n vervelige oomblik op die hokkieveld nie!

Hokkie-akademie is ook altyd die lekkerste vak waar jy punte kry vir pret hê op die astro saam met jou vriendinne…  Nie net dit nie, maar dit gee jou ‘n ruskans van die hoërskool-akademie!  Maar dink net hoe gaan jou hokkie verbeter as jy soveel ekstra klas en spesiale aandag kan kry!

Jy sal nooit spyt wees as jy kies om deel te word van die Affie-hokkiefamilie nie!

Don’t forget to be awesome!!  Carla Bosman (2013)

Baie mense dink hokkie is net ‘n sportsoort, maar wanneer jy AHMP verteenwoordig, sal jy werklik besef hokkie is meer as net ‘n sport, dit is n leefwyse!

Me Christie, of soos ons haar ken “H”, is vir seker ‘n spontane en energieke persoon wat beslis een van die bekwaamste afrigters in ons land is.  “H” sal altyd seker maak jy daag jouself voordurend uit, op en van die veld af.  Ek praat uit ondervinding wanneer ek sê sy sal jou ook help om die beste te wees wat jy kan wees.

By AHMP word jy geleer om met jou hart te speel vir jou skool, jou afrigter, jou spanmaats en heel belangrikste vir die Here.

Vir my as lid van die huidige Affie-eerstespan kan ek met trots sê my hokkiefamilie by Affies is vir seker soos my tweede familie en saam met elk van die persone wat lid is van die familie, weet ek dat ek enige pad kan stap. Dit maak nie saak hoeveel draaie of struikelblokke daar is nie

Onthou altyd:

“GREAT MOMENTS ARE BORN FROM GREAT OPPORTUNITIES” Sulize de Klerk  (2013)

Is jy kort, lank, groot, klein, snaaks, bot, die volgende Pietie Coetzee of kan jy nie eers “hokkie” spel nie?  As jy ja geantwoord het op enige van die bogenoemde, dan is Affie-hokkie die sport vir jou!  In Affies maak dit nie saak of jy al ‘n bal kon slaan voor jy kon loop en of jy eers hierdie jaar vir die eerste keer ‘n stok in jou hand gaan vashou nie. Daar is altyd ‘n span vir jou, ‘n span wat van A tot Z topafrigting ontvang deur entoesiastiese afrigters waarmee jy meer as net ‘n professionele verhouding kan bou.

Maar hoe kan dinge met Affie-hokkie verkeerd loop as ‘n mens ‘n hokkiebestuurder en eerstespan-afrigter het wat meer positief is as die kant van ‘n battery en wat passie vir hokkie in elke oomblik van die dag uitleef en dit soos ‘n aansteeklike siekte onder die meisies versprei?  Ek kan met alle trots se ek is ‘n lyer aan HIV (Hokkie Inspirerende Virus).  Juf Hilda en al die ander afrigters leer ‘n mens nie net hokkie speel nie, maar help jou ook groei as ‘n persoon.  Hul is altyd daar vir jou en dra jou belange na aan die hart.

Hier by Affie-hokkie het ons die geleentheid om aan talle toere, toernooie en opleidingskursusse vir alle spanne deel te neem.  In graad 8 en 9 kan jy hokkie as ‘n vak neem wat teoretiese sowel as praktiese ondervinding insluit.  Daar is ook die Affie eie Oranje- en Kimberley-naweke waar ons toer en hokkie speel. Dit is ‘n ondervinding wat ander skole jou nie altyd kan bied nie.

Jy word deel van ‘n hokkiegemeenskap waar hokkiespeel lekker is.  Jy maak vriendinne wat jy altyd sal hê, met wie jy jou verjaarsdag by die hokkieoefening op ‘n spesiale manier vier en waarmee jy saamdans op die maat van jou fiksheidsessie se musiek; waar jy droom om eendag met die blou en wit strepies op die veld te draf.

Soos ons hokkiekinders sê:  “Don’t forget to be awesome.”   Nicola  Immelman  (2013)

Die spreekwoord lui: “ Lekker is maar net ‘n vinger lank.”  Hier by Affies se hokkie herskryf ons die  spreekwoord na:  “Lekker is heel jaar lank.” In watter span jy ook al speel, juffrou “H” skep vir elke speler die geleentheid om haar potensiaal te bereik.

Wat doen ons by Affie-hokkie?

Ons leer liefde vir die spel.

Jy is nie groter as die spel nie.

Ons kry van die beste afrigting.

Ons gaan op toere en klinieke.

Ons het ‘n astro.

Ons het gees.

Ons speel Noord-Gauteng proewe.

Ons neem deel aan die Stadsbeker en

Ons speel Noordvaal.

Na ‘n harde en lekker seisoen speel ons somerliga. Tanel du Plooy  (2014)

Hokkie hier by Affies is nie net nog ‘n woord nie, maar iets veel meer!

Die H staan vir die einste “H” ons organiseerder en eerstespanafrigter. “H” is ook deel van Northerns Hokkie en het verskeie “super powers” waarvan Hokkie-afrig beslis een is!

Die O staan vir “out of the ordinary” – genoeg gesê!

Die twee K’s staan vir KaapKursus, die beste belewenis ooit!  Elke jaar toer van die spanne Kaap toe vir ‘n kursus met net die beste afrigters en speel teen spanne van regoor die land.  Ons neem deel aan verskeie toernooie deur die jaar (moenie bekommerd wees nie ma’s – huiswerk word op toer gedoen).  Oefenkursusse word ook tydens vakansies vir enige belangstellende Hokkie-bokkies aangebied.

Die I staan vir Intelligensie, want (en dit moet ek dalk sag sê) as Hokkie maklik was, sou ons dit … wel sou dit nie hokkie wees nie!

En laaste maar beslis nie die minste nie, die E staan vir Energie en Entoesiasme!  Iets waarvan ons almal baie het!

Affie-hokkie is een groot familie.  Almal word as ewe belangrik geag – van die O/14D tot by die Eerstespan. As jy nog nie gespeel het nie, ontspan, ons het ‘n beginnerspannetjie ook en JA, hulle speel ook wedstryde!

Aan die einde van die jaar het ons ‘n Somerliga waarvan jy ook deel kan word!  Jy’t reg gehoor – gr 7’s is ook welkom, so skryf jou naam op en kom beleef Affie-hokkie! Anje Kotze  (2014)

Daar is ‘n motto by ons skool – ‘n Affie “drop” nie ‘n Affie nie,  hiermee word gesê dat jy jou mede-Affie ten alle tye sal bystaan. En soos hokkie nie ‘n eenmansport is nie , werk ons saam as ‘n span. Ons almal het ‘n liefde vir die sport en speel ons saam ,maak nie saak of julle nie pouses bymekaar sit of in dieselfde vriendekring is nie. Hulle is jou hokkie-pelle.

Dit verg moed en deursettingsvermoë om vir Affies te speel en jou skool se naam hoog te hou. Megan Roberts (Derde span 2016)

As hokkiespeler en kaptein van 0/15 B-span het ek hierdie seisoen besef dat Affie-hokkie eintlik ‘n Affie-familie op sy eie is.

Die hokkieseisoen het afgeskop met ‘n volgepakte oefenweek aangebied deur Tuks-hokkie.

“Coach David” het ons met speeltegnieke en motiveringspraatjies geleer dat wanneer jy speel jy jou beste moet gee, maar meer nog om dit te geniet.

Met al die harde oefeninge, aangeleerde tegnieke en ons pragtige nuwe hokkiedrag was ons Affie-sussies ‘n gedugte span en slaggereed vir die liga.

2016-hokkieseisoen is gevul met nuwe herinneringe, soos goeie oorwinnings, die saam kuier van ouers op die paviljoen,  skyfies soet lemoene in halftyd, blou maermerries en  luidkeelse aanmoediging deur die spanlede aan die kant van die veld.

Dit was duidelik dat ons almal een gesamentlike liefde deel, naamlik Affie-hokkie! Jancke Geyer  o15B  2016

BOBAASHOKKIE BY AHMP

Al ooit gewonder oor die kleure van ons hokkiedrag? Wit staan mos vir suiwerheid en blou is nie verniet die kleur van die hemel nie! So reg op die doelhok af: ons hokkie is suiwer hemels!

Gewoonlik dink Jan Alleman net aan die manlike spesie as dit by regte kompeterende sport kom. Dink weer, hoor! ‘n Meisie wat haar vegtersgees wil uitleef, MOET eenvoudig by ons kom hokkie speel! Jy veg nie vir ‘n plek nie, maar vir elke punt en elke oorwinning. Boonop is ons spangees ongelooflik! Jy hóéf nie ‘n randblommetjie by Affies te wees nie. Om die waarheid te sê, randblommetjies dra nie wit en blou nie…

Ons hokkie is werklik asemrowend – pure pret! Natuurlik moet jy ook streng hokkiedissipline handhaaf, maar dit maak van jou ‘n rateltaai, heel mens. Ons spog natuurlik ook met net die heel beste: prima afrigters vir alle ouderdomsgroepe en hipermoderne velde van gras en astro wat elke skool groen van jaloesie maak.

Vanselfsprekend lei dit tot uitstekende resultate tydens ons ligas. Ons leuse is nie verniet “Ek sien haar wen” nie. Wil jy nog meer weet? Kom kuier op die grasveld of astro waar daar altyd ‘n paar jong dames sal wees wat jou vinnig deel sal laat voel van ons hokkiefamilie. Janké  Roesch   o14B  2016

Affies-hokkie:

My vriendinne staan rondom my in ‘n kringetjie. Die een se arm op die ander se skouer.  Ons kyk na mekaar en weet ons is reg vir die geveg wat vir ons voorlê. Ek en my vriendinne, ek en my Affie-sussies rondom my met ons koningsblou affie truie staan reg vir ‘n hokkie-wedstryd.

Affies-hokkie speel ‘n groot rol in my lewe.  Daar is amper elke dag ‘n oefensessie op Affies se groen astro wat elke keer iets is om na uit te sien.  Die oefeninge is altyd lekker saam met my Affie-sussies. Elke dag is die grappies beter en snaakser as die vorige dag.  Ons 0/15A span is nie net ‘n klomp hokkie spelers nie, maar ons is ‘n familie wat onafskeidbaar is.  Die verhouding tussen ons Affie-sussies is so kosbaar dat woorde nie eers dit kan beskryf nie. Ek weet dat ek volle vertroue in elke een van my spanmaats  het en dat hulle altyd daar sal wees wanneer ek hulle nodig het.  Ons familie sal nooit voltooi wees sonder ons ongelooflike afrigter, Juffrou Lizel van der Watt, nie.  Ek en my span sou nooit so ver gekom het hierdie jaar as dit nie vir haar was nie. Ons afrigter is iemand wat ons almal na op kyk en ons altyd motiveer. “Agter elke vreeslose span is ‘n vreeslose afrigter wat geweier het om hulle niks minder te laat wees nie as die beste wat hulle kan”. Dié aanhaling is die perfekte beskrywing van ons afrigter en al die ander Affie-afrigters by ons skool.

Daar is niks wat ek vir Affies se hokkie sal verruil nie.  Dit is ongelooflik om deel te wees daarvan.  Dis ‘n groot eer om die Affie-koningsblou hokkiewedstrydklere aan te trek en hokkie te kan speel vir my skool.  AHMP-hokkie is iets wat elke hokkiespeler moet kom beleef.

Lara-Anne Strydom o15A  2016

“When I play hockey I feel alive.  It feels like nothing matters, like time doesn’t exist.  Like it’s only me out there; exploring, learning and competing.   The real unfiltered, imperfectly perfect me.” – Rachel Dawson  (VSA Nasionale Vroueveldhokkie)

Elke hokkiespeler sal met hierdie stelling kan identifiseer, want as jy al ‘n hokkiestok in jou hand vasgehou het, weet jy dat ‘n mens jouself totaal kan afsonder van die wêreld om jou deur te verdwyn in die opwinding van dié sport so na aan jou hart.  Wat egter net sommige hokkiespelers sal kan ervaar, is om hierdie opwinding te kan beleef met ‘n Affie-sussie langs jou, wie se hart net so blou soos joune klop.

Hokkie by Affies is ‘n geleentheid om jouself as speler en ook as mens te ontwikkel.  Dit alles word moontlik gemaak deur mev Hilda Christie, organiseerder, afrigter en mentor vir elke hokkiespeler in ons skool.  Onder leiding van haar en haar span afrigters kan ons met trots sê ons spanne bereik nuwe hoogtes soos nog nooit van tevore nie.

Al vier ons A-spanne het die voorreg om in die semifinaal van die Stadsbeker teen ons buurskole mee te ding en is tans besig om ook voor te berei vir die Noordvaalkompetisie kort daarna.  Verder presteer individue van elke ouderdomsgroep ook op provinsiale vlak en sommige spelers het ook die voorreg om ons skool en provinsie op nasionale vlak te verteenwoordig.

Karli vd Mescht  – O/14A-kaptein  2013

2016 – Graad 8 – Hokkie!     AHMP Hokkie-Bokkies!

Toe ek besluit het om Meisieshoër toe te gaan, was dit nie net die amper eeu-oue kultuur en tradisies van hierdie wonderlike skool wat my getrek het nie, maar ook die feit dat ek eendag die wit en blou Affie-hokkiedrag sou kon dra!

Soos almal wat saam met my hokkie speel, het ons Affies toe gekom omdat ons deel wou wees van iets besonders.

Onder die ervare leiding van afrigter Hilda, is ons al in ons graad 7-jaar aan die Affie-hokkiekultuur blootgestel, en glo my, gou het ons besef dat dit nie speletjies sou wees nie!

Na sowat drie maande se proewe en proefwedstryde is ons spanne gekies en kon ons in alle erns begin oefen.  Wat my gou opgeval het, was dat ons hier by Affies, hokkie speel omdat ons ‘n liefde vir die sport het en omdat ons dit wil geniet – hierdie kenmerke is dan ook iets wat gou-gou lei na ‘n span wat beter wil doen en die beste resultate wil bereik.

As graad 8-leerder was dit verfrissend om blootgestel te word aan verskeie toernooie en klinieke – hierdie geleenthede het die 0/14’s geleer dat ‘n span te alle tye as ‘n eenheid moet werk en vinnig moet aanpas by die omstandighede en die ander span se spelpatroon. Ons speel as ‘n span, wen as ‘n span en verloor as ‘n span!

In die Grootskole 1-liga is daar geen maklike wedstryde nie en ons moes elke wedstryd dan ook so benader. Wees fisies sterk en emosioneel nog sterker!

Ons afrigter vir die jaar moes soms Job se geduld hê om die O/14-meisies te help fokus op dit wat sy ons leer en natuurlik, soos ons almal weet, moes sy terselfdertyd ook ‘n skouer wees om op te huil as ‘n graad 8-speler se hart seer was.

Aan alle voornemende Affie-hokkiebokkies – kom geniet en groei saam met Affie-hokkie en word deel van ons skool se leuse: “Ons sien haar wen!”

Ek wil afsluit deur ‘n aanhaling wat vir my na aan die hart lê:

You only live once,  BUT if you play hockey, once is enough!” Xanthe van Zyl  o14A-kaptein 2016

Affie-hokkie is nie net ‘n sportsoort nie, dis ‘n plek waar jy jou karakter ontwikkel deur goeie sportmangees en spanwerk aan te leer.

Om na ‘n rowwe skooldag op die astro (Affies se astro speel die lekkerste in Pretoria) of “grastro” te ontlaai en nuwe vaardighede aan te leer, is soortgelyk aan ‘n kort vakansie.

As ons kompeteer, doen ons dit op die Affie-manier. Ons speel skoon hokkie, ons speel ons harte uit en ons wys altyd Affie-guts!

Om deel te wees van die Affie-hokkiefamilie beteken om te groei in hokkie, om te groei in jouself, maar die belangrikste, om die spel te geniet! Marlie Harris   Eerste Span 2016

As lid van die Affie-familie kan ek getuig van die wit en blou grasie waarmee elke hokkiespeler optree, beide op en van die die veld af. Dit is ‘n voorreg om deel te wees van ‘n ongelooflike groep dogters wat twee dinge gemeen het: ‘n liefde vir hokkie en Affie-trots!

Elke maal as jy die grasgroen astro betree, besef jy dat jy in die voetspore trap van talle Affies wat net soos jy ‘n blou passie gehad het vir hokkie! Dit bied vir jou eindelose moontlikhede en gee jou hokkie-kreatiwiteit vlerke! Die ryk invloed van afrigters en medespelers spoor jou elke dag aan om hoër hoogtes te bereik.

Die herinneringe van Affie-hokkie is ewig deel van wie ek is. Mag jy ook jou plek vind in ons hokkiefamilie! Karli van der Mescht   Eerste Span-kaptein 2016

NASIONALE SPELERS vanuit AFFIES

Leerders:

1       Ilse Alberts (gebore  Spangler)

  •  Springbok           1977

2       Riëtte Laas

  • SA o18B              1993

3       Aryna Edward (Jr)

  • SA o16A              1999
  • SA o18A              2001

4       Annemie Botha

  • SA o16B              2000
  • SA o21                2008

5       Nita van Jaarsveld

  • A o18B              2000
  • SA o18A              2001
  • Protea                 2004

6       Karlien Steenberg

  • SA o16B              2002

7       Nita Verhoef

  • SA o16B              2002

8       Venita van der Merwe

  • SA o18B              2003

9       Chrizelle Andries

  • SA o16B              2003
  • SA o18A              2004  &  2005
  • SA o21                 2008
  • SA Snr oefengroep      2006 – 2009

10     Sulize de Klerk

  • SA o18B              2012
  • SA o21                 2015  &  2016

11     Simone van der Colff

  • SA o18B             2014

Personeel:

1       Rina van Zijl

  • Springbok

2       Aryna Edwards

  • Springbok