Project Description

NETBAL

Wat maak AHMP ‘n top-netbalskool?

Ons netballeuse, “Affie netbal die senter van alle aksie” is sinoniem met ons skool se leuse: “Ek sien haar wen!”

Aan die stuur van hierdie groot en belangrike sporsoort is mev Maggie du Plessis.  Sy is ‘n internasionale skeidsregter, dien as lid van IFN en is self ‘n oud-Springbokspeler.   Haar passie vir netbal word gedeel deur ‘n bekwame afrigterskorps en dit verseker die sukses van Affie-netbal.

ONS NUWE HOOFAFRIGTER, ME AMANDA MYNHARDT SÊ:

“Enige afrigter streef na sukses, maar hoe meet ‘n mens sukses behalwe deur te kyk wat die telbord weerspieël?  Hier by ons topskool gaan dit oor meer as wen. Dit gaan oor ‘n kultuur wat ons onder ons spelers skep.

Dit is ‘n kultuur waar prestasie gemeet word deur ons eie standaarde te stel, waar ons karakter bou saam met talent ontwikkeling.  Hier by Affies moet spelers dit geniet en ‘n liefde vir netbal ontwikkel.  Ons wil denkende, hardwerkende en vreeslose spelers skep wat uitgaan in die wêreld en ‘n verskil gaan maak.  Spelers leer wat dit verg om deel te wees van ‘n span en om as ‘n eenheid te funksioneer.  Daarom streef ons na SUKSES”.

As Protea-speler van 2008 tot 2015 en 47 toetse vir Suid-Afrika agter die rug. Haar toevoeging tot ons afrigterskorps bewys dat AHMP met reg kan roem op die feit dat hulle een van die top-netbalskole in die land is.

2017-Seisoen sover

Die 0/14 A span was kampioene van Affies se prestige Netbaltoernooi.  Nicci Oosthuizen ontvang die trofee vir die beste aanvallende speler.

Die 0/15 A span speel in die 0/16 afdeling en word as kampioene gekroon.  Kayla van Niekerk word as die beste Verdedigende speler gekroon.

Affies se 0/16 A span speel in die 0/17 afdeling en word ook as kampioene aangewys. Jeane Minnaar word as die beste verdedigende speler aangewys.

Ons 0/17 A-span het in die  0/19 afdeling gespeel en een wedstryd verloor in die uitspele teen Nelspruit die spannetjie speel toe vir posisie 5 en 6 – hulle eindig vyfde. Ons 0/19 B en eerstespan neem ook in die 0/19 afdeling deel.  Ons 0/19 B span eindig vierde en ons 0/17 A span eindig vyfde.  Baie geluk aan die twee spanne.  Ons eerstespan speel in die finaal teen Garsfontein en verloor ongelukkig.  Nogtans is die naaswennerposisie nie te versmaai nie.  Danielle van Zyl word as die beste aanvallende speler aangewys.

George Toernooi:

Ons eerstespan het 12 April teruggekeer van die gesogte George Top Netbaltoernooi.  Ons span het uitstekend gespeel en verslaan Eldoraigne in die finaal 25-18.

Ons verower al drie individuele trofeë vir beste spelers:  Danielle van Zyl vir die beste doel, Tane Woude vir die beste aanvallende speler en Linda Mouton vir die beste verdedigende speler.

2016-Seisoen

Affie-netbal kondig  vir die tweede jaar ‘n unieke prestige-toernooi aan.  Die toernooi is 20-23 Maart gehou.  Yvonne Willering (wêreldbekende) en voormalige “Silver Fern”-afrigter word genooi om drie afrigtingsessies aan te bied.  70 spanne van regoor Suid Afrika neem deel aan ons uiters geslaagde toernooi.

Die eerstespan verower silwermedaljes in die gesogte George Netbaltoernooi en bewys drie weke daarna waartoe hulle in staat is deur vir die vierde keer vanaf 2010 as die Wildeklawer Kampioene gekroon te word.  Die netbaltoernooi is een van die mees gesogte toernooie in die land met 12 van die top skole in die land wat deelneem.  Mieke Landman, AV, word as die beste senterbaanspeler aangewys.

Connie Msiza, VV van ons eerste span, word in die SA 0/19-span opgeneem wat na Nieu-Seeland toer.  Sewe eerstespanspelers ontvang Gauteng-kleure.  Affie-netbal is vanjaar weereens die algehele wenners van die 2016 Jubilee-liga.  Dit beteken dat al 18 Affie-netbalspanne wat liga gespeel het, bygedra het tot Affies se wentotaal van 121 punte.  Die 0/14 E- en F-spanne se deelname bewys waaroor Affie-netbal beskik. Aan die twee spanne met hulle afrigter: baie geluk met hulle deelname en oorwinnnigs.  Al vyf ons A-spanne kwalifiseer dus om aan die Gauteng-kampioenskap deel te neem.