Project Description

SAGTEBAL

Welkom by Affie-sagtebal.

`n Blik op die geskiedenis

Sagtebal is ‘n variant van Amerikaanse bofbal, of te wel “baseball”. Die sport het ontstaan in die laat 1800’s in Chicago, en is gebaseer op bofbal, wat hoofsaaklik geken is as ‘n sport vir mans. Daar is na verwys as speelgrond-bofbal deur kinders van die era, of binnehuise-bofbal vir dames wat aan sport deelgeneem het. Die spel se reëls, die afmetings van die velde en die toerusting het gewissel, afhangend van die geslag van die spelers, hul ouderdom en die bepekte beskikbaarheid van toerusting.

Vandag is dit egter ‘n heel ander storie. In 1923 het die speel-speel-sport soveel belangstelling begin uitlok by beide mans en vroue van alle ouderdomme, dat ‘n komitee saamgestel is om vaste reëls en regulasies op te stel en te sirkuleer aan die uithoeke van die Verenigde State. Van daar het sagtebal die wêreld begroet. Dit was net die begin van die fantastiese sport wat ons vandag ken as sagtebal.

Affie-sagtebal

Daar is ‘n slagspreuk wat lui dat talent tot niks sal kom sonder toewyding nie. Dit is waarom Afrikaanse Hoër Meisieskool daarna streef om vir dogters die beste afrigting te bied. Affie-afrigters word geken vir toewyding en entoesiasme vir die sport. Die meeste van die Affie-afrigters is self ook spelers wat waarborg dat hulle ‘n voorliefde vir sagtebal het  om ons Affie-dogters te inspireer en hul talent te ontsluit.

Sagtebal word gedurende die derde kwartaal gespeel, dit wil sê Julie tot September. Afrikaanse Hoër Meisieskool is trots om te kan sê dat daar jaarliks twee spanne per ouderdom ingeskryf word om aan die grootskoleliga deel te neem. Hier bou ons op die skool se belofte van uitnemendheid en presteer die Affie-dogters voorwaar puik. Sagtebal hou ons dogters op hul tone met hul arms in die lug, met hulle oë na bo gerig.

Affies neem jaarliks deel aan die Gauteng-Noord provinsiale proewe waar dogters  gekies kan word vir provinsiale spanne en om provinsiale kleure vir Sagtebal te kan verwerf. By die provinsiale toernooie kan die dogters verder vereer word deur gekies te word as lede van die nasionale span.

Wat nog?

Verder word dogters ook die geleentheid gebied om deel te word van ‘n heel ander tipe sagtebalspan. Jaarliks word daar verskeie kursusse aangebied wat tellinghou, afrigter en skeidsregting insluit. ‘n Nuwe Affie-tradisie is om leerders na hierdie kursusse te stuur waar hulle die skool kan dien en eer op die sportveld met ‘n nuwe perspektief. Gryp jou handskoen en helm! Kom word deel van die opwinding en vind jou plekkie in die Affie-son. Mede Affies word hier ware vriendinne, en Affie-vriendinne word ons Affie-sussies.

Vir verdere navrae kontak mev. C. Swanepoel per e-pos by chrisna.swanepoel@ahmp.co.za of telefonies op (012) 344 3811.