High School Musical

Om ’n musiekblyspel soos High School Musical saam te stel en dan boonop suksesvol op te voer, sit nie in enige iemand se broek nie, maar dit is presies wat Afrikaanse Hoër Meisieskool vermag het. Die musiekblyspel is vanaf 9 tot 12 April by die Atterburyteater aangebied. Die stampvol teater het telkens daarvan getuig dat elke aanbieding groot byval gevind het. Komiese en soms ook hartseer tonele het die gehoor aangegryp en het spontane toejuiging veroorsaak.

Me. Alna Smit, departementshoof van musiek by die skool, beskryf dit as ’n reuse-spanpoging. Sy sê dit het die span van einde Januarie geneem om die produksie op die planke te bring.’n Groot verskeidenheid liedjies wat uit die oorspronklike High School Musical kom, is opgevoer en gesing. Dit is beslis ‘n produksie wat in die skool se annale opgeteken behoort te word.Fotos: Juffrou Natalie Goetsch