Redenaars & Debat
By die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria leef, eet en droom ons Affie-leerders redenaars en debat. Afrikaans lê “volrond in ons mond” (met apologie aan Laurika Rauch).
REDENAARS
ATKV REDENAARS MAAK VIR `N TWEEDE JAAR GESKIEDENIS!
Die 9 leerders wat AHMP in 11 kategorieë die afgelope naweek by die nasionale finaal van ATKV Redenaars verteenwoordig het, het geskiedenis gemaak. AHMP ontvang in totaal `n rekordgetal van 8 toekennings. Ons spog met TWEE NASIONALE WENNERS, TWEE 2de plekke en EEN 3de plek. Dit is landswyd die meeste toekennings ontvang deur enige skool. Ons doen ons naam gestand en verwerf ook DRIE toekennings vir die beste taalgebruik in Afrikaans.
AL 11 sprekers eindig in die TOP 15 – `n ongekende prestasie.
Die uitslae is as volg:
8-9 Addisionele taal Voorbereid
3de Tebogo Masoma (graad 9)
2de Palesa Seerane (graad 8)
Beste taalgebruiker wenner Palesa Seerane (graad 8)
8-9 Addisionele taal Onvoorbereid
Nasionale wenner Lesego Tswai (graad 9) en Beste taalgebruiker wenner Lesego Tswai (graad 9)
10-12 Huistaal Voorbereid
2de Antoinette Robertson (graad 12) en Beste taalgebruiker wenner Antoinette Robertson (graad 12)
Nasionale wenner Danike Korf (graad 12)
TOP 15-sprekers
Mienke Burger 14de (graad 8)
Kiki Butler 8ste (graad 8)
Carii van Rooyen 5de (graad 9)
Sandy Prinsloo mis die podium net-net met `n 4de plek (graad 8)
Kontakpersoon: Mev Heslia van Eck heslia.vaneck@ahmp.co.za
DEBAT
Debatkompetisies is ʼn platform vir raakpraters om nie net nuwe vaardighede aan te leer nie, maar ook te leer hoe om die toekoms met selfvertroue aan te pak. Affies kry nie net die geleentheid om hul sê te sê nie, maar hulle leer ook om te luister, navorsing te doen en oopkop oor ʼn onderwerp te dink en debatteer.
Die Affies neem jaarliks aan drie nasionale debatskompetisies met verskillende formate deel: ATKV-debatskompetisie, Dink of Sink en Con Spirito.
Debat 2024
Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria het in 2024 12 spanne vir die ATKV se skole-debatskompetisie ingeskryf: vier junior en agt senior spanne. Die eerste ronde van die ATKV-kompetisie het op 26 en 27 April plaasgevind. Nege uit twaalf spanne het tydens die eerste ronde hulle debatte gewen en ses van ons spanne het na die halfeindronde deurgedring.
Na afloop van die halfeindronde wat op 14 en 15 Mei plaasgevind het, is een van ons junior spanne (Mienke Burger, Zanél Viljoen en Anabelle Swanepoel) deur na die landsfinaal wat op 15 Augustus by ATKV Klein-Kariba plaasgevind het. Dié junior span het die 8ste plek in die ATKV landsfinaal verower.
Die onderwerpe vir vanjaar se ATKV-debat was:
JUNIORS: Skoolsport moet (nie) afgeskaf word (nie).
SENIORS: Selfdoen-aksie bevorder (nie) demokrasie in Suid-Afrika (nie).
Ons junior span wat deurgedring het na die landsfinaal se onderwerp was: Alle hoërskoolleerders moet (nie) ‘n plaaslike Afrika-taal aanleer (nie).
Ons Affie-dogters het in die derde kwartaal op 11 en 12 Julie aan die jaarlikse Dink of Sink-debatskompetisie by Hoërskool Montana deelgeneem. Met hierdie kompetisie het ons tien spanne ingeskryf.
Ons het twee senior spanne gehad wat deurgedring het na die halfeindronde, beide moes met die geleentheid die knie teen Helpmekaar Kollege buig.
Twee van ons junior spanne het deurgedring na die finaal en het tydens die gala-aand teen mekaar gepraat.
Kiki Butler, Anabelle Swanepoel en Lientjie Steyn teen Skye Byles, Zia van Wyk en Roxanne Bornman
Kiki, Anabelle en Lientjie wen die junior debatsfinaal in Gauteng en dring deur na die landsfinaal. Hierdie jongspan het uiteindelik by die landsfinaal, wat in Oktober plaasgevind het, weggestap as die algehele wenners in die juniors kategorie. Hierdie prestasie spreek boekdele van hoe ons Affie-dogters op hulle voet kan dink en nie terugstaan vir enigiemand nie.
Ons het in 2024 ook ‘n debatklub gestig, waarvan enige dogter lid kon wees. Die doel van die klub is om almal die geleentheid te gee om meer van debat te leer, ook om pret te hê en om deelname vir debat te bevorder. Daar was in die loop van die jaar twee debataande, waar die debatklub saam vergader het.
2024 was ‘n goeie jaar vir AHMP-debat en ons is werklik trots op elke dogter se deelname.
Kontak persoon: Mev Lise-Mari Roodt lisemari.roodt@ahmp.co.za