Huis Steijn, AHMP se koshuis
Huis Steijn, AHMP se koshuis op die skoolterrein, het ‘n eiesoortige karakter wat waarheid verleen aan die koshuis se leuse “Waar haar hart lê”. Die kameraderie tussen die koshuisleerders word gekenmerk deur lojaliteit, trots, saam lag en saam huil.
Huis Steijn se geskiedenis
Die wordingsgeskiedenis van die koshuis loop hand aan hand met die ontwikkeling van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria. Op 20 Januarie 1920 is ons skool gevestig in Visagiestraat, en twee jaar later, in 1922, word die eerste koshuis vir dogters in ‘n privaatwoning in Buitenstraat 74 (vandag Leydsstraat) gevestig met ‘n anneks in Esselenstraat 320.
In 1925 verskuif die koshuis na ‘n woning met meer ruimtes in Parkstraat 141, met mev Pienaar as die eerste koshuishoof. In 1929 verskuif die koshuis na ‘n nog groter woning in Bondstraat 10 (min of meer waar die skoolsaal vandag is). Reeds met die vestiging van die skool word die begeerte uitgespreek deur ouers, personeel en leerders vir ’n “mooi sierlike en doeltreffende skoolgebou met koshuis op ‘n stuk grond wat waardig is” .
In 1932 neem die Raad van Beheer (vandag die Beheerliggaam) die besluit dat ‘n koshuis gebou sal word en ‘n geskikte area word geïdentifiseer. Gedurende 1938/1939 word daar begin met die bou van die koshuis en kort daarna het die eerste inwoners ingetrek. Die koshuis is amptelik op 20 Maart 1940 ingewy. Dit het bestaan uit twee vleuels, die Oos- en Weshuis met kamers vir dogters, woonkwatiere vir inwonende personeel en ‘n kombuis en wasgeriewe. Dit is interessant dat daar na die koshuis as die Dely-straatkoshuis verwys is. Ou kaarte van Pretoria wys dat vandag se Jorrissenstraat in daardie jare Delystraat was. Dogters moes drie ure per dag onder streng toesig studeer, elke dag gaan stap vir oefening en as jy die koshuisreëls oortree het, was bossies uittrek jou straf.
Beddegoed is voorsien (twee wit lakens, ’n kombers en blou deken) en elke dag moes al jou beddegoed afgetrek wees met inspeksie. Eers daarna het jy jou bed opgemaak volgens streng voorskrifte. Wee jou as jou beddegoed se voulyne nie presies was nie, want dan is jou bed gestroop en moes jy dit weer opmaak én bossies uittrek. Was jou kas en kamer onnet, kon jy verseker weet dat ‘n omgedopte kamer jou na skool begroet het wat jy blitsvinnig moes regpak – voor middagstudie, en natuurlik was jou straf: bossies uittrek! Dogters kon slegs een maal per kwartaal huis toe gaan. Aan snoepery en eetgoed in die koshuis was daar nooit ‘n tekort nie, maar eetgoed is in die kamers toegelaat nie: dit is toegeluit in ‘n kas aan die onderpunt van die gang en vieruur elke dag is die kas oopgesluit en kon die dogters hulle snoepgoed kry. Baie hegte vriendskappe is so rondom vieruur gebou, want Sarie se beskuit en Annie se droëwors en gemmerkoekies lyk baie lekkerder as Marie se droëvrugte!
Sondagoggende is almal saam kerk toe in gelid, geklee in hulle pragtige wit somersrokkies, wit handskoene, wit kousies (net die matrieks het sykouse gedra) en skoolskoene, en die gehate wit panamahoed op jou kop. In die winter was dit donkerblou (navy) rokke met bruin handskoene en swart lang kouse (“black meraai”). Die dogters en seuns het apart gesit in die kerk en behoede jou as die juffrou aan diens jou uitvang dat jy jou nek rek om vir Jannie te kyk en nie na die preek luister nie. Sondagmiddae moes jy briewe skryf aan jou familie om verslag te doen van wat die week by die skool gebeur het!
Het jy geweet die koshuis het sy eie haarkappery gehad? (Dit is waar die rekenaarkamer vandag is – dis hoekom daar spieëls is!) Dogters kon op wintersaande voor ‘n kaggelvuur ontspan met ‘n boek.
In 1951 is nog nuwe slaaplokale en ʼn nuwe studiesaal vir die dogters aangebou. Daar is ook woongeriewe vir die koshuismatrones en ‘n woonhuis vir die koshuis- /skoolhoof gebou.
In 1975 maak die TV sy verskyning in Suid-Afrika en kry die koshuis ook een. Die dogters het groot-oog na hierdie verskynsel gekyk! In 1986 is verbeterings aan Oos- en Weshuis aangebring. Die voorportaal is verbeter en die ontspanningsaal en eetsaal opgeknap.
In 1994 trek senior dogters in ‘n huis in Troyestraat 115 in, wat bekend staan as Huis Hoogenhout, maar weens vervoerprobleme na die skool toe word dit verkoop in 1995.
Juffrou Venter se droom is in 1996 verwesenlik toe die nuwe senior koshuis met 62 dubbelkamers en ‘n nuut herontwerpte kombuis in gebruik geneem is.
Elke huidige en oud-inwoner haar eie verhaal om te vertel van die koshuis – sommige daarvan gesensor!
Tydlyn: Koshuisgeskiedenis
1922-1925
1924
Desember 1925
23 Februarie 1929
1933
April 1939
Julie 1940
1951
Oktober 1954
1986
1996
2010
Vandag
Kom stap saam deur die koshuis!
Wonder jy hoe dit in Huis Steijn se gange lyk? Kom saam met ons op ‘n virtuele toer deur die koshuis.