Akademie
Mnr FJ le Roux, die heel eerste hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, het in sy jaarverslag van 1922 die volgende geskryf:
ʼn Skool se waarde moet … geskat word … na die gehalte van opvoedende werk wat daar verrig word. Die toon van ʼn skool, sy kulturele lewe en opbloei, sy innerlike geestelike waarde en die bevoegdheid tot die opbou van karakter kan nie deur enige eksamen gemeet word nie.
Agter Affies se uitmuntende en volgehoue prestasie lê daar geen suksesgeheim nie. Die dogters se prestasies is hul beloning op ‘n hoë werksetiek, doeltreffende en kundige bestuur, bekwame onderwysers en gedissiplineerde leerders. Die goue draad wat al vir dekades deur Affies se doen en late loop, is die strewe om meisies intellektueel te vorm, kultureel te verryk, geestelik te verfyn en hul vroulikheid te raffineer.
TOEKOMSGERIGTE AKADEMIE
Met ses laboratoriums vir onderskeidelik fisiese en lewenswetenskappe, drie moderne rekenaarlokale, twee sentrums vir verbruikerstudies en vele meer, is AHMP ‘n skool waar meisies effektief vir die toekoms voorberei word.
- 18 vakke word van graad 10 tot 12 aangebied
- Die skool maak gebruik van ʼn e-leerplatform vir alle grade
- Moderne toerusting word vir onderrig gebruik
- Die hele skoolterrein is ʼn wifi-sone.
Akademiese prestasies deur die jare
In 1922 het twee AHMP-kandidate die matriekeksamen (Trap II) afgelê en albei het geslaag. Sedertdien het akademiese uitnemendheid ‘n kernwaarde van Afrikaanse Hoër Meisieskool geword.
2025-MATRIEKUITSLAE
AHMP se 2025-matrieks bevestig akademiese uitnemendheid – nou ook aangewys as Top Akademiese skool in Gauteng
Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP), onlangs aangewys as die Top Akademiese skool in Gauteng, het met die Klas van 2025 se matriekuitslae weereens sy sterk akademiese grondslag en kultuur van uitnemendheid bevestig.
Altesaam 247 graad 12-leerders het die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen afgelê en gesamentlik 791 A-simbole behaal, wat 10 onderskeidings in Alpha Wiskunde uitsluit. Dit beteken ’n gemiddeld van 3,2 A’s per leerder, terwyl die graadvrystellingsyfer op ’n indrukwekkende 98% staan.
Die groep se graadgemiddeld beloop 75,82%. Verdere hoogtepunte sluit 165 A+ vaksimbole (90% en hoër) en 626 A vaksimbole (80% en hoër) in. In totaal het 84 leerders ’n eindgemiddeld van 80% en hoër behaal. Sewe vakke het ’n gemiddeld bo 80% aangeteken, terwyl twaalf vakke gemiddeldes bo 70% behaal het.
Vyf leerders het besonderse prestasies gelewer deur elk agt onderskeidings te verwerf: Anna Marie Erasmus, Mion Frantzen, Elizabeth Hendriksz, Evelynne Frances Nel en Annie Steyn. Die breë verspreiding van onderskeidings onder die matrikulante weerspieël die groep se algehele akademiese sterkte.
Die skool het die matrikulante, hul ouers en onderwysers gelukgewens met die uitsonderlike prestasie. Volgens AHMP bevestig hierdie uitslae nie net die waarde van konsekwente akademiese fokus en toegewyde onderrig nie, maar ook waarom die skool met reg as die Top Akademiese skool in Gauteng erken is. Die matrikulante se deursettingsvermoë, veerkragtigheid en nederigheid staan sentraal tot hierdie suksesverhaal.













