Skip to content

Kunsversameling

Op die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se terrein is ʼn verskeidenheid kunswerke te sien. Elke kunswerk is deur die loop van ʼn eeu vir die skool ontwerp of aan die skool geskenk vir ʼn besonderse geleentheid of viering, of as ʼn simbool van iets wat die skool en die meisies verteenwoordig. Vir onderwysers, leerders en besoekers is dié kunswerke ʼn bron van inspirasie.

“Die Noitje” deur Anton van Wouw

Die bekendste van hierdie kunswerke is sekerlik die Anton van Wouw-beeldhouwerk, Die “Noitje van die onderveld”. Dié 42,5 cm hoë bronsbeeld is in 1907 gegiet, en beeld ʼn jong, peinsende Afrikanerdogter in haar tradisionele kleredrag met ʼn kappie op die kop uit. Die geliefde “Noitje,” wat met haar hande gevou staan maar met haar gedagtes so wyd soos die veld (aldus Van Wouw), se gesig kom ook in die skool se embleem voor. ʼn Replika van die oorspronklike beeld staan in ʼn nis in die skool se rooibaksteengebou waar die meisies haar elke dag kan sien.

“Ontwaking” deur Laurika Postma

In 1951 sorg die toenmalige skoolhoof, mej. E.C. Steijn, of “Steyntjie” soos daar liefderyk na haar verwys word, vir die totstandkoming van die beeldhouwerk “Ontwaking”. Op reis deur Italië het Steijn die marmergroewe van Carrara gesien – dieselfde bron waar die marmer vir, onder andere, Michelangelo se beroemdste werke uitgehaal is.

Dié suiwerwit, glansende marmer het in mej. Steijn die droom wakker gemaak om ʼn kunswerk vir die skool te laat maak, aldus die eeufeesbundel. In oorleg met Laurika Postma [die beeldhouer] is die presiese grootte van ʼn blok marmer uitgewerk en bestel. Steijn het met die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Rome onderhandel om die duursame blok Carrara-marmer via diplomatieke pos Pretoria toe te stuur.

Die kopstuk is onthul in 1951, met die skool se mondigwording, en beeld die “hoopvolle, ontwakende dogter – tot volle wasdom” uit.

In 1962 oorhandig die skool se klassieke klub ʼn tweede Laurika Postma-beeldjie, Daphne, aan die skool. Dié beeld het tragies verlore geraak toe dit in die 1990’s tydens ʼn geleentheid by die skool gesteel is. ʼn Borsbeeld van Mabel Malherbe het ook tussen neus en oë op die skoolterrein verdwyn.

“Ontwaking” is in die hoofgebou se voorportaal te siene.

“Bokkie” deur Elly Holm

Met die oprigting en inwyding van die skoolsaal in 1960 nader juf. Steijn die Duitsgebore beeldhouer Elly Holm om vir die skool ʼn standbeeld van ʼn pasgebore bokkie te skep. Met die eerste weergawe van die bokkie was juf. Steijn egter nie tevrede nie, want die bokkie was, volgens haar, te vet. “Hy moet bang-bang, grootoog en op wankelbeentjies na sy omgewing kyk,” was haar terugvoer aan die beeldhouer, wat eenvoudig oor moes begin. Die bokkie staan vandag steeds voor die skoolsaal waar dogters haar elke dag kan groet, en op die bronsplaat langs die kunswerk staan dié woorde:

ʼn Beeld van die begrip van jong lewe. Die jong dogter versinnebeeld in die bokkie – teer, fyn, en wondbaar, met groot oë wat bang-bang op wankelbeentjies na die nuwe omgewing kyk…

Holm maak ook vir die skool twee leiklipfriese wat weerskante van Die Noitje hang.

“Droombeeld” vir skool se 85ste verjaardag

Met AHMP se 85ste bestaansjaar in 1995 skenk Sanna Swart, ʼn oud-Affie wat in 1985 gematrikuleer het, die beeld getiteld “droom” aan die skool. Dié beeld gryp daagliks die verbeelding aan van meisies wat by haar verbystap waar sy op die grasperk tussen die studentesentrum en die Vincent’s koffiewinkel haar arms uitstrek. Die beeld verteenwoordig ʼn poëtiese, visuele voorstelling van ʼn jongmeisie se drome.

“Idealisme” deur Elza Dziomba

Nog ʼn beeldhouwerk wat hierby aansluit, is die beeld “Idealisme” deur Elza Dziomba, wat in deur die beheerliggaamslid mnr. Tonie Louw aan die skool geskenk is en vandag nog aan die kant van die skoolsaal teen die muur pryk. Volgens rekords is die beeld “Idealisme” ʼn beeld van die opvoedeling wat die steun en stukrag van die opvoeder nodig het in haar strewe om vlerke na die hoogtes te vind. Sy behou egter nog die vryheid van gees om ʼn individu met eie potensiaal te bly – want elke mens het sy eie verlange, strewe, drome en idealisme.

“Kompasroos” deur Willem Boshoff

In die skoolsaal se voorportaal is nóg ʼn kunswerk wat dogters aanspoor om hul vlerke te sprei en groot te droom.

Toe die skoolsaal in 2013 vernuwe is, is die befaamde en bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar Willem Boshoff deur die argitekte versoek om betrokke te raak. Sy kunswerk “Kompasroos” is in die voorportaal se vloer ingelê. Volgens Boshoff simboliseer die kunswerk die mens se pogings om sin te maak uit die wêreld om hulle. Windrigtings word kodes, ʼn poging om orde te skep, en wys daarop dat die wêreld groter as ons self is. Die skool se weergawe van hierdie kunswerk is besonders omdat dit die enigste is wat as vloerlegwerk gebruik is, soos ʼn funksionele kompas. Elke stuk marmer wat in die inlegwerk gebruik is, kom uit ʼn ander deel van die wêreld, insluitend Indië, Namibië en Italië.

Wanneer die skoolmeisies oor die kompasroos in die voorportaal van die saal stap, word hulle herinner daaraan dat die wêreld aan hulle voete is, en dat ʼn mens enige rigting kan inslaan waaroor jy droom.

Gedenkvenster deur Leo Theron

Wanneer ʼn mens van buite af deur die skool se voordeur binnekom, is daar ʼn tweede venster wat tot die skool se kunsversameling bydra – ʼn lieflike, gekleurde glasvenster-kunswerk deur die Pretorianer Leo Théron. Die toneel in die venster beeld ʼn fyn vrouefiguur uit – ʼn jong dogter wat opkyk na waar ʼn kring van lig hoop uitbeeld. Met dié venster, en die twee gedenkplate langsaan, word hulde gebring aan Affies-leerders en -personeel wat oorlede is. Dis in 1985 deur mev. Gretchen Hesse, die moeder van oudleerling Ilse Hesse wat in 1984 oorlede is, onthul.

Die Weefster deur Elly Holm

Die Weefster is ʼn brandglasskildery met ʼn vrouefiguur in die voorgrond, “die weefster”. Sy lig met haar hand ʼn gordyn of tapyt – simbolies van die groot weefwerk van ons bestaan en noodlot. In die woorde van die kunstenaar: “Hierdie weefwerk is die kruis en die op-en-af-vesels of drade met die onbekende waarvandaan en waarheen. Tog vorm daardie skynbaar toevallig mosaïek ʼn komplekse patroon of grondakkoord: Die dinge van die lewe.”

Die Weefster is in 1989 deur Elly Holm aan AHMP geskenk.

Leiklipfriese deur Elly Holm

Dié twee friese is geskep deur Elly Holm met die woorde “Want haar naam is vrou en moeder” uit die gedig By die vrouebetoging van Jan FE Cilliers as inspirasie – dieselfde gedig waaruit die skool se leuse, Ek sien haar wen, geneem is. Hiermee word hulde gebring aan elke vrou en moeder van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria.

“Ewige Affie” deur Ruhan Janse van Vuuren

ʼn Bronsbeeld van ʼn Affie-meisie, geklee in ʼn skoolrok met die kenmerkende Affie-“skoolkeppie” op haar kop en ʼn Bybel in haar hande, herinner meisies sedert 2022 waar hulle krag vandaan kom in tye van beproewing soos tydens die Covid-pandemie.

Vir die viering van AHMP se 100ste bestaansjaar op 28 Januarie is dié splinternuwe beeld, bekend as “Die ewige Affie,” onthul en toegevoeg tot die beeldhouskat waarmee die skool reeds spog. Die beeld het ʼn staanplek gekry naby die fontein in die skool se voortuin, reg voor die hoofgebou.

“Die ewige Affie” kyk af na ʼn gedeelte uit Openbaring 3 wat op die Bybel in haar hande gegraveer is. Daar staan onder meer: Ek het jou lief, omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het. Ek sal jou bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing van die hele wêreld. Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat jy nie jou kroon verloor nie.

“Die Venstertjie”

Langs Die Noietje in die skoolgebou se gang staan die “venstertjie” – ʼn klipstruktuur wat lyk soos ʼn klipkerkie met ʼn glasvenster aan die voorkant. Dié struktuur is in 1956 deur die voormalige skoolhoof juf. E.C. Steijn self gebou.  Haar doel daarmee was om die dogters die geleentheid te gee om stukkies inspirasie uit die letterkunde, die Bybel en die natuur met mekaar te deel. Hoewel dié struktuur nie deur ʼn beeldhouer gemaak is nie, leef die tradisie wat Steijn daarmee wou vestig, steeds voort: Elke klas in die skool kry vir een week per jaar die geleentheid om die venstertjie te vul met inspirerende kunswerke, teksverse, gedigte, letterkunde en blomme.

Juf. Holtzhausen besin in 1957 in dié jaar se jaarblad só oor die venstertjie:

So staan hulle smôrens daar – uiterlik één groot, gesellige groep, maar elkeen met haar eie, geheime wêreldjie, geslote en vas teen die dinge en mense van buite. En ek sien hoe die wysheid van vergete eeue, die suiwer denke van digters en dromers van lank gelede, herleef in die raam wat van eenvoudige, sterk hout gemaak is – en ek sien hoe ʼn slanke ligstraal stil en diep val in die blou skaduhart van hierdie kleine-kapel-langs-die-pad, diep en stil val in die hart van die skooldogter met drome in haar oë.

Kontak Ons

As u enige ander vrae het of inligting benodig, kontak ons gerus.