Skip to content

Fasiliteite

Die fasiliteite op AHMP se skoolterrein is ryk aan geskiedenis en tradisie, maar ook modern en toegerus om te verseker dat elke AHMP-dogter tot haar volle potensiaal kan ontwikkel – of dit nou op akademiese, sport- of kultuurgebied is.

Die EC Steijn-saal van Afrikaanse Hoër Meisieskool, ingewy op 17 September 1960, het in 2013 heropen ná restourasie en opgraderings weens ‘n groeiende leerdertal. Die saal, simbolies gevorm soos die bekende AHMP-keppie, bring ou en nuwe tradisies bymekaar met die oorspronklike boulyne sigbaar binne die opgraderings.

Verskeie kunswerke, soos die Bokkie, die kompasroos, en Idealisme, versier die ruimte. Sanna Swart het die deurhandvatsels ontwerp, geïnspireer deur die blare van die Transvaalse kiepersolboom by die saalingang. Die houtdeure van die ou saal is hergebruik in die nuwe een.

In die voorportaal kan die gedig Ontkenning 3 deur oudleerling Fransi Phillips gelees word. Die saal bevat ook die donker orrel “Phantom Lady,” een van die min sulke orrels in Suid-Afrika.

By die saal se ingang is die skoolwapen, gebaseer op Anton van Wouw se beeld. Op die trappe hang ‘n foto van mej. Steijn, die skoolhoof na wie die saal vernoem is, wat op 101-jarige ouderdom oorlede is in 2010.

Gedenksentrum
Deur Mathews + Associates Argitekte
 
Hierdie inspirerende projek is ‘n uitstekende voorbeeld van die sensitiewe hergebruik en restourasie van ons tradisionele skoolsaal na ‘n moderne, veelsydige uitstal- en funksie ruimte. Die projek het daarin geslaag om die gebou se oorspronklike karakter te respekteer en te bewaar.
 
Die argitektoniese ingryping beklemtoon die historiese waarde van die 1930’s-saal deur die sjarme en styl daarvan te behou. Terselfdertyd word moderne elemente ingebring wat die ruimte se funksionaliteit en estetiese aantrekkingskrag verhoog.
 
Die restourasie werk is van uitstekende gehalte en getuig van hoë vakmanskap met groot aandag aan detail. Die oorspronklike kenmerke soos vloer afwerkings, vensters en ander argitektoniese elemente is met sorg herstel. Moderne toevoegings is doelgerig geïmplementeer om ‘n perfekte balans tussen die ou en nuwe elemente te skep. Hierdie aanpassings is naatloos geïntegreer, met ‘n fyn gevoel vir die behoud van die gebou se unieke atmosfeer.
 
Wat uitstaan, is die gebruik van aksente en rigtingwysers binne die ruimte. Hierdie elemente beklemtoon sleutel argitektoniese kenmerke, verbeter die estetiese ervaring en skep ‘n natuurlike vloei deur die gebou.
 
Die projek gee nuwe lewe aan hierdie erfenisruimte, verleng die lewensduur daarvan en verseker dat dit ‘n dinamiese deel van die skool se opvoedkundige en gemeenskapslewe bly. Dit dien as ‘n inspirasie vir hoe restourasie en aanpasbare hergebruik met vernuf en deurtastendheid benader kan word.
 
Die projek verwerf ook ‘n toekenning vir die Vernuftige Hergebruik van ‘n Onderwys-Erfenisgebou.
Louisa Venter-studentesentrum

Die studentesentrum op die skoolterrein is ʼn veeldoelige, moderne lokaal wat gebruik word vir kooroptredes, personeelfunksies, reünies, troues, kunsuitstallings, sosiale geleenthede vir die meisies ensovoorts. Juf Venter, ʼn voormalige hoof van die skool, het op 16 April 2007, in haar aftreejaar, die hoeksteen van die sentrum gelê en dit geopen. Die saal is na haar vernoem, omdat sy die oorspronklike skepper van die droom vir so ʼn sentrum was. Hoewel die sentrum R4,5 miljoen gekos het om te bou, is die koste daarvan reeds verhaal deur inkomste wat gegenereer is deur die uithuur van dié fasiliteit.

Vincent’s Restaurant

In 2017 het Affie-dogters hul nuwe restaurant na Vincent Mtembu, die geliefde sekuriteitswag by die Bondstraat-hek, vernoem. Sy sorgsame, vaderlike beskerming het hom ‘n spesiale plek in hul harte besorg.

Vincent’s is reeds 7:00 soggens oop, en meisies staan tou vir ʼn lekker cappuccino, ʼn geroosterde toebroodjie of ʼn slaai. Talle onderwyseresse en ma’s gebruik Vincent’s se gesellige stoep vir ʼn vinnige koffie-afspraak of vergadering, en voor en ná skool kuier die seuns van AHS ook graag by Vincent’s – al gaan dit nie noodwendig vir hulle oor die koffie nie.

Die restaurant is naweke oop wanneer daar aktiwiteite by die skool aangebied word, en kan ook vir funksies bespreek word.

Vincent Mtembu is ongelukkig intussen oorlede, maar sy naam leef voort in dié van die skool se gunsteling kuierplek.

Studielokaal bo Vincent’s

Studielokaal bo Vincent’s

Bo Vincent’s is ‘n studieruimte vir dogters wat ná skool bly. Dit bied ‘n veilige en gesellige plek om huiswerk te doen of te wag om opgelaai te word – en ‘n lekker koffie is net ‘n stel trappe weg!

Musiekhuis

Die musiekhuis was ʼn huis in Kirknesstraat, bekend as die “rooihuis,” wat in 1961 deur die skool aangekoop is. Die musiekhuis is in 2015 opgegradeer en verbeter en is nou ‘n pragtige vertoonstuk van die musiekdepartement.

Lokale toegerus vir spesifieke vakke
  • Die skool het drie Verbruikerstudies-lokale met drie volledig toegeruste kombuise
  • Dogters het toegang tot vier ten volle toegeruste wetenskaplaboratoriums
  • Drie goed toegeruste rekenaarsentrums sorg vir goeie IT-opleiding
  • Alle klaskamers is toegerus met dataprojektors.
Gimnasium

By die gras-hokkieveld het leerders toegang tot ‘n gimnasium; moontlik gemaak deur ‘n skenking van Afgri.

Klubhuis

Die skool se klubhuis is vanjaar herdoop na die Me. Marna Jordaan Klubhuis om die onskatbare bydrae by die skool van Juffrou Jordaan te vereer. Sy het tallose ure by die klubhuis deurgebring ter ondersteuning van die skool se sport en as toegewyde aanhanger van die leerders se sport en ook hul prestasies. Die klubhuis is ontwerp met ‘n unieke argitektoniese styl en dien as ‘n landmerk en oriënteringspunt op die sportvelde, ‘n rol wat vroeër ontbreek het.

Die ontwerp is deur Pieter Matthews geskep – ‘n struktuur wat funksionaliteit, simboliek, toekoms, en geskiedenis in een verenig. Dit is as ‘n vrystaande element reg rondom waarneembaar, wat ‘n opvallende kenmerk in die omgewing skep. Die klubhuis is skuins op ‘n bestaande tennisbaan geplaas om uitsig oor al die sportsoorte te bied en om die rigiede reëlmaat van die sportvelde te breek. Die gekonseptualiseerde dakraamwerk omraam ook die toring van die Ooskerk vanuit die noordweste, wat ‘n dramatiese atmosfeer aan die ruimte gee.

Die voorsitter van die opdraggewende Beheerliggaam, Mnr. Jack van der Merwe, het die ontwerp treffend beskryf as: “Soos die piramide voor die Louvre.” Meer as ’n dekade later bly hierdie ontwerp een van Pieter Matthews se gunsteling ontwerpe, en dit is gepas dat dit vernoem word na ’n merkwaardige, visionêre hoof. Hierdie projek het gewaag om ons herkoms op ‘n kontemporêre manier te herinterpreteer en daarmee die moed en visie van Me. Jordaan en die Beheerliggaam gevier.

Aangesien die skuins dak van die klubhuis ideaal is om films teen te vertoon, gebruik die koshuis dit graag vir veldfliek-geleenthede saam met AHS se koshuisseuns.

Kontak Ons

As u enige ander vrae het of inligting benodig, kontak ons gerus.