Hokkie
Affies spog met ‘n trotse en opwindende hokkiekultuur, gevestig in sterk waardes, dissipline en hokkie-etiket. Spangees en entoesiasme is belangrik as jy wil hokkie speel. Hokkie is nie net ligawedstryde en harde werk nie, dit is ook baie pret op ons eie Affie-astro en top gehalte grasveld!
DEELNAME EN PRESTASIES
AHMP het 16 spanne waarvan 12 aan die Northerns Grootskoleliga deelneem. Uitstekende uitslae word deur al die spanne behaal.
Die eerstespan het vanjaar weer aan die All Girls’ Festival by Eunice deelgeneem waar ons kompeteer teen die top staatsmeisieskole in Suid-Afrika. Dit is die eerste maal dat hierdie festival weer plaasvind sedert 2019. Die Eerstespan eindig algeheel 5de uit een-en-twintig spanne.
Die A-spanne het almal gedurende Maart/April aan Festivals deelgeneem ter voorbereiding van die liga. Die o/15A-span was die wenners van die B-afdeling by die Bloemhof o16 Festival! Die eerstespan was die wenners van die Vuvuzela-afdeling by die St Mary’s Festival.
Buiten vir die jaarlikse derbies teen Oranje Meisies Hoër en Paarl Gimnasium, neem ons spanne ook aan die volgende toernooie deel:
- Eerste span: St Mary’s en All Girls’ Festival; Pullen and Howell Cup
- o/16: Pullen and Howell Cup; Menlofees; Bloemhof
- o/15: St Mary’s, Kloof en Bloemhof
- o/14: Roedean
Affies wat al SA Skole-kleure verwerf het: Anlu Harmse, Nicola Meyer, Megan Vosloo, Pretty Morema, Shelmy Hall, Simone van der Colff, Sulize de Klerk, Carli Gericke, Venita van der Merwe, Annemie Botha, Nita van Jaarsveld, Aryna Edwards (Jnr), Karlien Steenberg, Nita Verhoef en Riëtte Laas.
SA senior spelers (personeel ingesluit) uit Affie-geledere: Nicolene Terblanche, Nita van Jaarsveld, Aryna Edwards (Snr), Ilse Alberts en Rina van Zijl.
Fiksheid en kondisionering word gedurende die afseisoen gedoen. Die interne somerliga en pretdag is maar enkele aspekte wat Affie-hokkie uniek maak. Voornemende Affies word betrek by ons Ahmper Affies-geleenthede. Maak seker dat jou naam op die lys is!
Affie Juniors bied afrgtingsgeleenthede asook hokkiefeeste vir laerskooldogters van graad 4 tot 7.
HOKKIE-AKADEMIE
Hokkie word as verrykingsvak tydens skoolure vir graad 8 en 9 aangebied. Verskeie fasette geniet aandag: basiese vaardighede, voetwerk, spelpatrone, toernooi-organisasie, oog-handkoördinasie, tegniese aspekte, posisionele spel, skeidsregting en afrigteropleiding.
Hokkiedirekteur: Mev Hilda Christie hokkie@ahmp.co.za
Hoofafrigter: Me Nicolene Terblanche nicolene.terblanche@ahmp.co.za