Swem
Swem by AHMP is een van die groter sportsoorte, met ongeveer 600 deelnemers aan die jaarlikse interhuisgala en vier spanne wat aan vier verskillende Pretoria-ligas deelneem. Sowat 125 swemmers word in die vier spanne ingesluit. Die skool beskik oor ‘n verhitte 25m-swembad waar ons eie swemmers afgerig word.
HUISGALA
Die huisgala is ‘n feestelike geleentheid met die hele skool wat die oggend by die AHMP-swembad deurbring. Dit is terselfdertyd ‘n ernstige okkasie, aangesien dit dien as proewe vir die vier swemspanne wat gekies word. Die huisgala word streng volgens FINA-reëls aangebied met NTS-beamptes, drie opgeleide tydhouers per laan en elektroniese dataverwerking.
Die dag word opgevrolik met dirigente en die verskillende huise wat teen mekaar kompeteer vir die beste gees. dit is die nuwe gr 8’s se eerste kennismaking met ware Affie-gees.
Ná die huisgala word die junior en senior Victrix Ludorum, asook die beste swemmer in elke ouderdomsgroep aangewys. Die hoogtepunt vir die toeskouers is die oorhandiging van die geesbeker vir die huis met die beste gees.
Affies is die enigste skool wat vier swemspanne het. Ons A-span het in 2020 en 2023 die dogtersafdeling gewen, en die diepte van ons dogters se swemtalent blyk duidelik uit die feit dat ons B-, C- en D-spanne uitestekend vaar teen ander skole se A-spanne in hul onderskeie ligas.
Deur die loop van die jaar neem ons aan verskeie vriendskaplike galas deel.
In die afgelope dekade of twee het Affie-swemmers Vanessa Mohr (2013), Eune Odendaal (2014) en Duné Coetzee (2020) internasionaal uitgeblink. Ander SA-swemmers uit ons eie swembad is Lise Coetzee (2019 en 2022) en Lisa Kleyn (2019).
Afrigter: Me Chrisna Luus
Organiseerder: Mev Liandra Cilliers swem@ahmp.co.za