Skaak
2024 het begin op ’n hoogtepunt met die aanstelling van ’n nuwe skaakafrigter, Mnr. George Pauer, by Affies. Die geesdrif is aansteeklik en vier spanne reis na die Grey-Toernooi aan die einde van Februarie – die eerste keer dat Affies soveel spanne by hierdie toernooi inskryf.
Tydens die Paarl Gimnasium Derby, aan die begin van die tweede kwartaal, kom die Meisieskool en die Seunskool saam om die Gimmies uit te daag. Gedurende hierdie geleentheid word skaakvriendskappe gesmee en strategieë geoefen vir die aanvang van die liga-wedstryde.
In 2024 het Affies drie liga-spanne wat in die o.19-gemengde D-groep (wat ’n derde plek behaal het), die o.15-gemengde D-groep (wat ook ’n derde plek behaal het), en die o.19-meisies D-groep (wat ’n tweede plek behaal het) deelgeneem.
Die skaakspan verteenwoordig Affies ook by die All Girls’ Festival met ’n span van vyf dogters: Stesha Behr, Nina Turpin, Clara van der Merwe, Ami de Villiers en Dané Führi. Die kompetisie is uitdagend, maar die geleenthede om teen van die land se beste skaakspelers te speel en te leer, maak dit alles die moeite werd.
Ons is baie trots op vier van ons skaakspelers wat uitgenooi is na die Gauteng Schools Chess Individual Finals en Affies se naam hoog gehou het. Die senior dogters is Mia Rossouw en Jana de Klerk, en die junior dogters is Ami de Villiers en Ilnah van Wyk.
Tamryn Elski het ook uitmuntend presteer deur ’n tweede plek te behaal by die Jakaranda Tshwane Round Robin Skaaktoernooi.
Twee van ons skaakspelers, Clara van der Merwe en Tamryn Elski, het gekwalifiseer om aan die Ettienne Lewis Skaaktoernooi deel te neem. Na afloop van die toernooi is albei opgeneem in die Gauteng Noord-span – Clara in die o.18B-span en Tamryn in die o.16B-span. Die spelers wat die beste presteer het gedurende die skaakseisoen, word na hierdie toernooi genooi om die provinsiale span te kies.
Die derde kwartaal van 2024 bring ’n nuwe dimensie aan ons skaakvoorbereiding met die speel van sosiale wedstryde. Kyk na die foto’s en sien hoe kompetisie en sosialisering hand aan hand kan gaan. Hierdie samewerking met verskeie skole is ’n werklike hoogtepunt, en ons hoop dit sal deel van die Affie-skaaktradisie wees.
Ons is trots om te sien hoe die regte skuiwe gemaak word.
Kontakpersoon: Mev Marié Wolhuter marie.duplessis@ahmp.co.za





