Affie-gees en tradisies
By Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria word jy deel van veel meer as ʼn skool: Jy word deel van meer as 100 jaar se kultuur, tradisies en gees. Sommige van die tradisies wat vandag nog in stand gehou word, is net so oud soos die skool se hoeksteen. Maar elke jaar word daar ook nuwe tradisies gevestig wat deur volgende geslagte Affies voortgesit sal word. Só bou ons jaar na jaar voort aan ʼn lewende nalatenskap.
- Die keppie is deel van AHMP se seremoniële drag. Die keppies word by spesiale geleenthede en elke Vrydag vir saal gedra. Nuwe gr 8’s het nie dadelik die voorreg om hul keppie te dra nie – dié voorreg moet eers verdien word. Wanneer jy amptelik ʼn Affie word ná die eerste paar weke se oriënteringsprogram, ‘kroon’ die skoolhoof jou met die keppie. En as jy op jou laaste dag in matriek by die skool se voordeur uitstap, is dit weer die skoolhoof wat jou keppie afhaal en in jou hande gee – ʼn simbool dat jou skoolmeisiejare verby is en dat jy nou ʼn grootmens is. As jou ma of ouma ook ʼn Affie was, het sy die voorreg om jou keppie af te haal.
- Meisies mag glad nie in hul skoolloopbaan deur die voordeur van die skool stap nie, maar op die laaste dag, wanneer hulle hul skoolloopbaan afsluit, is dit hulle voorreg om deur dié imposante deure te stap voor die hoof hul keppie afhaal.
- Een van AHMP se mooiste tradisies is die kerkafsluiting aan die einde van die skooljaar. Dit is ʼn dankdiens met lofgesange waartydens die matrieks seën vir hul toekoms toegebid word.
- Ons verjaar saam met AHS. Min mense weet dat AHMP en AHS vir die eerste nege jaar een skool was. Die twee skole verjaar dus saam en kuier elke jaar op 28 Januarie heerlik saam. Elke vyf jaar stap al die leerlinge en personeel van die twee skole van waar die skool in 1920 geopen het, terug tot by die skool.
- Mej Steijn, een van die voormalige hoofde van AHMP, het in die laat vyftigerjare self die sogenaamde “venstertjie” gebou – ʼn klein huisie met ʼn uitstalruimte agter glasvensters, op een van die stoepe waar die meisies van die skool elke dag verbystap. Elke week kry ʼn ander voogklas ʼn beurt om daagliks ʼn inspirerende boodskap rondom die week se tema daarin uit te beeld.
- Slegs die matrieks het die voorreg om hul tasse te versier. Daar was al tasse wat so mooi is dat dit eintlik geraam moes word!
- Verjaardae in AHMP is sinoniem met blomme en grass parties. Dogters versier vriendinne wat verjaar van kop tot tone met vars en papierblomme en gee blomme as geskenke. Pouse hou hulle verjaardagpartytjie op die grasperk saam met hul vriendinne – sogenaamde grass parties.
- Aan gees en geesvang in AHMP is daar nie ʼn tekort nie. Daar word groot gees gevang voor atletiek-interhoër, -superinterhoër en -swem-interhoër, voor die sportderby-naweke en sommer op ander tye ook, net vir die lekker. By Affieletics word atletiek en gees as ‘t ware één. Die hoogtepunt van geesvang is die jaarlikse Kode Blou. Maar om uit te vind wat Kode Blou is, sal jy eers ʼn Affie moet word.
- Die jaarlikse Wildsfees is ʼn gesamentlike fondsinsamelingsprojek van die ouers van AHMP en AHS. By dié geleentheid word daar heerlik gekuier, musiek gemaak, gesmul aan potjiekos en ander geregte, en behoorlik fees gevier tot laatnag.
- Moenie glo dat Valentynsdag nie ʼn ding is net omdat daar nie seuns in die skool is nie. Op Valentynsdag – net soos op baie ander dae – kuier die seuns en dogters oor en weer, en bederf mekaar met allerlei verrassings en geskenkies. Aan die seuns se kant is daar altyd ʼn sagte siel of twee wat sorg vir ʼn bos rose om uit te deel aan meisies wat nie iemand spesiaal in hul lewe het nie. Die twee skole se leerders kuier ook daagliks voor en na skool by mekaar, hou saam sport- en kultuurgeleenthede en deel mekaar se skoolfasiliteite.