Skip to content

Affies se eeu-oue geskiedenis

Ek sien haar wen, vir man en seun en broeder, 
want haar naam
is Vrou en Moeder!

Uit dié woorde van Jan FE Cilliers se gedig By die Vrouebetoging is Die Afrikaanse Hoër Meisieskool se leuse gebore: Ek sien haar wen. Dié woorde resoneer al vir meer as ʼn eeu in die harte van die dogters wat deur die skool se gange stap.

In 1920 is die Afrikaanse Hogere Skool in Visagiestraat 218 begin met 44 leerlinge, 3 personeellede en mnr JAK de Lange as waarnemende hoof. Sewe jaar later betrek 314 leerlinge die nuwe skoolgebou in Bondstraat, die skool waar AHMP vandag nog is.

Vandag is daar sowat 1 300 dogters in hierdie skool in die hartjie van die Jakarandastad. Die rustige dorpsatmosfeer met sy stofstrate, lanings bome en statige ou huise het plek gemaak vir ʼn bedrywige stadsbuurt waar leerders smiddae na skool sommer na die naaste winkelsentrum toe stap of op die groen grasperke voor die skool kuier.

Regs: Die skool met die amptelike opening in 1930.

Eeufeesblad: Eenhonderd jaar van uitnemendheid

Die skool het ʼn ryk geskiedenis van hoogte- en laagtepunte; staaltjies en geheime; avonture en tragedies; uitdagings van die tye wat oorkom moes word. Baie van dié geskiedenis is vir die skool se eeufeesviering in 2020 opgeteken in ʼn eeufeesgedenkbundel. Bestel jou eksemplaar hier.

Skoolhoofde

Deur die jare het die hoofde van AHMP daarna gestreef en dit reggekry om die tradisies, kultuur en karakter wat as die fondament van die skool gelê is, vir generasies te behou. Hier is die skool se ses formidabele hoofde:

  • Mej Evelyn (Ma) Verster: 1930 – 1944
  • Mej Elizabeth Steijn (Steijntjie): 1945 – 1962
  • Mej Agnes Holtzhausen: 1964 – 1985
  • Mej Louisa Venter: 1986 – 2007
  • Mej Marna Jordaan: 2008 – 2024
  • Mev Zinnette de Wet: 2025 – 

Van links is mej Verster, mej Steyn, mej Holtzhausen, mej Venter, mej Jordaan en mev de Wet.

Stroom-op: Skoolgeskiedenis deur die oë van die leerders

Ou weergawes van die Stroom-op, vir dekades al die skool se skoolkoerant, bied ʼn betowerende kykie op skoolgebeure soos leerders dit deur die dekades gesien en verwoord het. Dié uitgawes is steeds in die skool se argiewe beskikbaar, en daar word beplan om dit binnekort te skandeer en te digitaliseer sodat dit vir die oud-Affies, die huidige Affies en hul nageslag bewaar kan word. Hou hierdie spasie dop!

Het jy ou staaltjies of foto’s?

As jy ‘n oud-Affie is en afkom op enige geskiedkundige inligting wat vir die skool se argiewe van waarde kan wees, soos ou foto’s, dokumente, jaarblaaie ensovoorts, laat ons asseblief weet! Stuur vir ons e-pos na bemarker@ahmp.co.za.

Regs: Die voorblad van ʼn uitgawe van Stroomop, die skoolkoerant, uit 1979.

Geskiedenistydlyn

28 Januarie 1920

Die Afrikaanse Hogere Skool begin in Visagiestraat 218 met 44 leerlinge, 3 personeellede en mnr. JAK de Lange as waarnemende hoof

April 1920

Mnr FJ (Pa) le Roux word aangestel as skoolhoof

25 November 1925

Hoeksteen van ons skoolgebou in Bondstraat word deur die destydse eerste minister, generaal JBM Hertzog gelê

26 Januarie 1927

314 leerlinge betrek die nuwe skoolgebou in Bondstraat

25 Januarie 1928

Die Nederlandse skool, die Hogere Oosteind School, en die Afrikaanse Hogere Skool ruil terreine – die Afrikaanse skool skuif met 354 leerlinge na die gebou wat vandag Die Afrikaanse Hoër Seunskool is

1929

As gevolg van die groeiende getal leerlinge, word daar besluit om Die Afrikaanse Hoërskool in 2 enkelgeslag skole te verdeel.
Mej Evelyn (Ma) Verster word aangestel as Die Afrikaanse Hoër Meisieskool se eerste skoolhoof

4 April 1930

Die 11 personeellede en 176 dogters trek na hul eie skoolgebou in Bondstraat

1930

Die profiel van Anton van Wouw se beeld “Noitje van die onderveld” word gekies as wapen vir die meisieskool.
Die skool se leuse “Ek sien haar wen”, word gekies uit Jan FE Celliers se gedig “By die Vrouebetoging” waar hy afsluit met:
Ek sien haar wen, vir man en seun en broeder,
want haar naam
is Vrou en Moeder!

1937

Die skoollied word geskryf deur die pa van een die leerlinge, dr J Pienaar, en deur sy vrou getoonset

20 Maart 1940

Die koshuis word amptelik in gebruik geneem

1944

Ma Verster tree in die huwelik met eerwaarde Stander en tree uit as skoolhoof

1964

Die vorige ronde blou baret word vervang met koningsblou lugmagpet – vandag nog die “keppie”

1985

Die gedenkvenster word geïnstalleer

1995

Die eerste “Groot Stap” vanaf Visagiestraat om die skool se 75ste verjaardag te vier

1996

Nuwe senior koshuis word gebou

2007

Astrobane en studiesentrum word gebou

2013

Die EC Steijnsaal word vergroot, met gallery en al

2015

Affies se eie gimnasium open – ’n nuwe era van sportontwikkeling begin

2016

AHMP se Noi-embleem word opgeknap

2017

Die skool kry haar langverwagte swembad

2017

Vincent’s Restaurant open – ’n kreatiewe kulinêre ruimte vir Affies

2020

Die skool word 100 jaar oud!

2024

Die skool se hoofhek word meer elegant gemaak, wat inpas by die skool se voorkoms

2024

AHMP skakel oor na sonkrag – ’n stap na volhoubare energie

2024

Groot fondsinsameling begin vir ’n voetgangerbrug tussen AHMP en AHS

2024

Affies word deur die Departement van Basiese Onderwys aangewys as die tweede beste Akademiese skool in Kwintiel 5 – ’n bewys van ons uitnemendheid

28 Januarie 2025

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool en Die Afrikaanse Hoër Seunskool vier hul 105de bestaansjaar

2025

Die skool se biblioteek word in 2024 opgeknap en verander in 'n gedenksentrum. In 2025 word die gedenksentrum ingehuldig deur die skool se waarnemende hoof, Me. Isabel Troskie.

2025

Die Blou-Bond open hul eie winkel – ’n simbool van trotse ouerbetrokkenheid

Kontak Ons

As u enige ander vrae het of inligting benodig, kontak ons gerus.