Die skool het sy oorsprong op 28 Januarie 1920 toe die Afrikaanse Hogere Skool met 44 leerlinge in generaal Piet Joubert se voormalige woning geopen het. Teen 1924 het die vinnige groei tot 351 leerlinge gelei, en ’n groep vasbeslote moeders het die pad gebaan vir ’n nuwe skoolgebou.
Die terrein in Bondstraat, Clydesdale, is op 16 Oktober 1925 aan die kontrakteur oorhandig en bouwerk het begin. Op 25 November 1925 het generaal J.B.M. Hertzog die hoeksteen gelê voor ’n groot skare belangstellendes.
Op die hoeksteen pryk Jan F.E. Celliers se woorde:
“Ek hou van ’n man wat sy moeder eer, in die taal uit haar vrome mond geleer.”





